Boy en Perdekar en die appel

Sleutelwoorde

, , , , , , ,

As kinders van ’n klein Karoo-dorpie is ons baie bevoorreg is baie opsigte, maar dis steeds belangrik om te onthou dat daar baie swaarkry is in sulke afgeleë areas. Die ongelooflike landskappe van die Karoo is ’n beeldskone plek om groot te word, maar vir baie mense in dié gemeenskap gaan dinge maar broekskeur.

Die dorpie en plase is ver verwyder van enigiets af en winkels, dokters, tandartse en selfs net Binnelandse Sake se kantoor is ’n hele daguitstappie “dorp” toe. Dan moet daar nog ’n taxi geboek word vir die dag ook.

Op ons plaas het ons werkers wat al so lank as wat ek kan onthou daar woon. Een van hulle se naam is Boy. Sy regte naam is Hendrik, maar niemand ken hom só nie. Boy het nogal ’n interessante storie, meestal omdat hy en sy broer dieselfde naam het. Destyds kon sy ma nie onthou wie is wanneer gebore nie, so hulle het toe sommer altwee dieselfde naam én geboortedatum gekry.

Natuurlik het Binnelandse Sake dít glad nie verstaan nie en so is die twee se identiteitsnommers ’n bietjie van ’n deurmekaarspul en hulle soms sommer as dieselfde persoon gesien.

So het dit gebeur dat Boy, ná sy vrou se afsterwe, besluit het om weer te trou. Om een of ander rede het Binnelandse Sake egter die kat aan die gat beetgekry en volgens hulle was Boy klaar getroud met sy broer se vrou, Elsie. Alhoewel Boy en sy nuwe vrou wel “kerk getroud” was, kon die huwelik nooit geregistreer word by Binnelandse Sake nie.

Dit het egter nie vir Boy veel gepla nie, want sy nuwe vrou was ’n moeilike antie en sy het kort daarna besluit sy verkies die dorpslewe bó die van die plaas en sy is vort. Intussen is daar met veel moeite aansoek gedoen vir nuwe ’n identiteitsdokument en aangesien die huwelik nooit geregistreer kon word nie, is Boy nou weer ’n vry man!

’n Ander kwessie wat natuurlik opduik as jy só afgesonder is, is gesondheidskwessies. Die kliniek is 9 km ver en die naaste tandarts ’n hele 60 km van die plaas af. Sodoende is meeste van ons werknemers teen hul middeljare reeds tandloos.

Boy het darem nog ’n oogtand of twee gehad, maar een van ons ander werkers, Willem of Perdekar soos hy by die ander bekend was, was heel tandloos. Dis natuurlik een ding om sop te wil eet, maar dis ’n helemale ander storie as jy ’n appel wil kou.

Dus, elke keer as Perdekar ’n appel wou eet, het hy dit eers vir Boy met sy een oogtand aangegee en mooi gevra: “Start hom net gou daar vir my?”

Advertisements

‘n Elegie vir ‘n ouma

Sleutelwoorde

, , , , , , , ,

Vir my mammie, wat dié Moedersdag sonder haar eie mammie moes spandeer.
IMG_2991

My Oupa Hannes en Ouma Bettie het gewoon in die Transvaal, baie baie ver verwyder van die Karoo waar ons grootgeword het. Ek onthou hoe my ma-hulle ons douvoordag stuk-stuk agter in die kombi gelaai het as ons sou gaan kuier.

Dan het ons kassette van Boney M en Abba geluister.

Ek onthou stop vir toebroodjies langs die pad en dan uiteindelik die hek en die netjiese tuin as ons by Ouma-hulle se huis in Welverdiend stop.

Welverdiend, vir die wat nie weet nie, is ‘n klein spoorwegdorpie na aan Carletonville net duskant Potchefstroom. Daar was baie min om te sien en doen, maar ons het altyd iets gekry om onsself mee besig te hou. Sondae het ons na die kerk, net drie huise af in die straat, gestap vir die oggenddiens.

Dis ook hiér waar ons hulle 50ste trou-herdenking gevier het. Die hele uitgebreide familie bymekaar.

Ouma Bettie het dié week besluit dis nou hoog tyd dat sy weer by Oupa Hannes aansluit. En al wat nou oorbly is ons herinneringe soos pêrels aan ‘n koord.

Ek onthou die reuk van die vrugtebome en die komposhoop in die hoek. Ek onthou hoe ons só vuil was van die rooigrond dat dit my ma ure gevat het om ons al vier se klere uit te was.

Ek onthou rummikub om die etenstafel en Sunrise-toffies as ons soet was.

Ek onthou die massiewe ou draadloos wat altyd op RSG ingestel was.

Ek onthou hoe die pienk leerbanke aan jou vasgeklou het op ‘n warm dag.

Ek onthou hoe Oupa Hannes gesit het en ‘n hele sak okkerneute uitgedop het, stadig en op sy eie tyd, buite op die ou bankie op die stoep.

Ek onthou hoe ek altyd honger aangesit het by die tafel en dan het my ouma altyd ‘n servet nader geskuif het, nog vóór ek kon mors.

Ek onthou anysbeskuit en gemmerkoekies – so hard dat jy in tee moes doop anders het jy ‘n tand gebreek!

Ek onthou blokkiesraaisels invul om die kombuistafel.

En ek onthou in my universiteitsdae hoe Ouma altyd as ek kom kuier het ‘n geldjie in my hand gedruk het en gesê het: “Vir groente! Sodat jy gesond kan eet as jy nie by ons kuier nie!”

En ek onthou die dag toe my neef Divan oorlede is. My ouma het gesit en my hand vasgehou. Op ‘n stadium het die trane begin oorloop. “My blaas is té vol!” het sy gesê toe sy haar trane met ‘n snesie wegvee. “Dis seker maar deel van oudword. Dit loop sommer oor!”

IMG_2993

Rus in vrede, Ouma Bettie. Die reuk van anys en gemmer, rooigrond en Rummikub sal ons altyd na jou laat verlang!

Dankbaarheid

Sleutelwoorde

, , , , , , , , , , , ,

Alhoewel ek vas glo dat joernaliste ‘n baie belangrike rol speel in die samelewing, was dit ook die ding wat my byna, byna gebreek het. Ek glo ek was gebou om te vertel, te skryf, ander te inspireer met stories oor mense en oor die goeie dinge. Maar ongelukkig is meeste van die stories wat koerante wil plaas (en mense wil lees) nie juis oor die mooi dinge in die lewe nie.

Na jare was ek so afgestomp dat ek op ‘n ongelukstoneel kon afkom en sonder gevoel foto’s neem en verslag doen oor die stukkende lywe wat oor die pad gestrooi is, sonder ‘n tweede gedagte aan dié mense se lewens, ma’s en pa’s en kinders wat hulle agterlaat nie. Dit klink dalk grusaam, maar dit was die enigste manier wat ek kon oorleef in so ‘n moeilike omgewing. Mens kan net soveel moord, doodslag en verwoesting sien voor jou trane opdroog.

Dit het lank gevat vir my om weer te kon huil. Maar deesdae huil ek vir alles wat mooi is. ‘n Mooi storie en ‘n gelukkige einde.

Hier is een van die stories wat my geïnspireer het.

Ek het ‘n kollega, Lu, wat net een been het. As jy na haar Facebook-profiel gaan kyk, sal jy dit egter nooit raai nie. Sy is beeldskoon, fotogenies en so vol liefde en geluk dat jy nie sal glo dat sy op ‘n stadium deur die ergste van die lewe was nie. As jy haar sien in die kantoor is sy altyd vol lag en, behalwe vir ‘n effense sukkel-loop, sou jy ook nie besef het waar sy deur is nie.

Jy sy nou nie kon weet dat sy ‘n keuse gehad het nie: haar been … of haar baba.

Lu het uitgevind sy het beenkanker toe sy maar 23 jaar oud is. Dis egter nie die begin of die einde van dié storie nie. Op daardie stadium was sy ook 3 maande swanger.

Sover ek onthou, het sy, pas na sy uitgevind het sy is swanger, een dag uit ‘n trein tot op die platform gespring en haar been geswik. Dit het egter al erger begin word, tot sy ‘n dokter moes gaan sien.

In 2014 het die kanker so vinnig versprei dat die dokters vir haar ‘n keuse gegee het: óf sy gaan dadelik vir behandeling en verloor haar baba. Óf sy verloor haar been.

Die kanker het egter sy gang te vinnig geloop. Op dié stadium was sy egter nog net 7 maande ver in haar swangerskap. Die babatjie sou dit nie maak as sy deur die operasie en gifstowwe moes gaan nie.

Hulle moes noodgedwonge haar dogtertjie twee maande te vroeg die lewe inbring, en sy was skaars gebore toe Lu se been afgesit is. Die maande wat daarop gevolg het was gevul met ‘n lang verblyf in die hospitaal, chemoterapie en ‘n lang pad voor sy kon huis toe gaan. 

Haar ma moes oorneem as ‘n kangaroe-ma om die babatjie wat 2 maande te vroeg gebore is aan die lewe te hou. 

“Ek het nog nooit gehuil oor my been nie,” vertel Lu, wat toe ek haar ontmoet het nog in ‘n rolstoel gery het. 

Sy het sukkel-sukkel leer loop met die kunsbeen, elke dag kuis aangetrek sodat sy so natuurlik as moontlik kon lyk. Kort daarna het sy egter van die omhulsel ontslae geraak sodat sy makliker kon loop. Vandag sien jy haar skaars in haar rolstoel.

Jy sal haar wel op haar beste klere sien. Opgetooi vir die dag. Gelukkig en optimisties oor wat die lewe nog na haar kant toe gaan gooi.

Ek hoop dat ek iemand soos Lu aan my sy sal hê op die donkerste van dae.

Hulle het dit deurleef, dit oorleef, sy en haar beeldskone kleinding.

Hoe kan ‘n mens dan nié met blydskap in jou hart leef nie?

 

* Romeine 15:13
Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!

Gemmerbier-herinneringe

Sleutelwoorde

, , , , ,

Ons was onlangs op ‘n familie-wegbreek vir my ma se 60ste verjaarsdag en het besluit op Brenton-on-Sea. (Nou ek weet nie of julle al daar was nie, maar dis ‘n ongelooflike klein dorpie net buite Knysna).

Dis ook bekend vir die feit dat dit die tuiste is van die Brenton Blue-skoenlapper en as jy gelukkig is, kan jy moontlik een van hulle in die natuur raakloop.

Hierdie storie gaan eintlik nie oor die dorp nie.

Een van die redes hoekom ons op die dorpie besluit is, is omdat ons jare gelede gereeld daar gaan kuier het. My pa se tante, Tannie Beth, het ‘n vakansiehuis daar gehad. Dié huis is egter intussen verkoop en daar is nou ‘n goue labrador wat waghou op die groot ou stoep.

Tannie Beth was een van daardie ongelooflike mense wat mens net een keer in jou lewe ontmoet. Sy was so vol lewe en idees en dinge en ek het so baie herinneringe van haar. Sy was vir my meer ‘n ouma as ‘n groot-tante. As sy op die plaas kom kuier het , moes ons almal skatte bymekaarmaak. Ons het soms kilometers en kilometers ver gaan stap, veral in die dae toe Oom Danie, haar eggenote, nog kon byhou. Ek onthou die klipstapeltjies wat ons langs die pad gebou het om te wys waar ons omgedraai het. Dié stapeltjies het lankal omgeval.

Sy was ook baie vindingryk en het ALLES herwin om weer te gebruik. Stukkende emmers en asbakkies is reggemaak en bottels is gebêre vir gemmerbier en geskenkpapier is herwin om weer die volgende jaar gebruik te word!

Die reuk van gemmerbier laat my altyd terugverlang na die huis in Brenton. Ons het een vakansie daar gekuier toe haar bier so bietjie erg gegis het. Een van die bottels het ontplof en alles was vol rosyntjies en soet stroop! Dis ‘n reuk wat my altyd terugvoer aan daardie tyd.

Ek dink die laaste ruk verskriklik baie aan Tannie Beth en dié huis. Toe ons nou die dag daar gekuier het, hierdie keer in ‘n ander plek, het ek geloop tot by haar huis en weer die honderde trappe afgeklim na die klein strandjie onder. Alles lyk nog presies dieselfde, maar dis leeg sonder my groot-tante. Ek het gewonder of die swaardvis, wat ons só bang gemaak het as kinders, nog in die gang hang.

Toe ek onlangs moes trek, het ek deur ou boeke gegaan en op ‘n brief afgekom wat sy vir my geskryf het. Sy en Oom Danie was kort voor dit in ‘n motorongeluk en sy het haar middelste vingers verloor. Sy moes leer om met haar linkerhand te skryf en sy het in dié brief ‘n tekening gemaak van haar krap-handjie.

Miskien het ek te lank gevat om hierdie storie te skryf.

Ek was besig met my matriekeksamen toe Tannie Beth die stryd teen kanker verloor het. Ek het eers later uitgevind en nooit regtig te veel daaraan gedink nie. Oom Danie het haar ten einde laaste, verlede jaar gevolg.

Daar het egter vir ons ‘n paar niggies en neefs agtergebly, sommige van hulle wel vir jare lank al oorsee. So het Andrew en sy nuwe vrou, Marie- Claude, vroeër die jaar weer in SA kom kuier vir hul wittebrood. Ver uit Kanada waar hulle deesdae woon. (Lee gerus hulle blog hier!)

Elkeen van Tannie Beth en oom Danie se dogters, die kleinneefs en -niggies het ‘n stukkie van hul ouma en oupa in hulle. Soos die verweerde naaldwerkmandjie (met “E van Heerden” op ‘n plaatjie gegraveer) wat sy met trots aan my oorhandig het as kind, is elkeen van hulle ‘n herinnering aan twee van my gunstelingmense.

Nou moet een van ons net leer hoe om ordentlike gemmerbier te maak.

Commitment Phobia

Sleutelwoorde

, , , , , ,

Ek wonder party dae of ek die enigste een is wat werklik sukkel om myself aan enigiets te commit, hetsy dit in ‘n verhouding is of nie.

Ek het die week vir die eerste keer besef ek leef in ‘n konstante toestand van wag-vir-iets-beter. Die Engelse statement “a state of flux” is die motto van my lewe.

Vandat ek vroeg in 2007 begin werk het, het ek altyd gewag vir iets beter om te gebeur, ‘n beter salaris en ‘n beter werk, ‘n beter woonstel om te huur, ‘n beter boyfriend, ‘n beter lewe. Ek het geen idee wat van die laaste tien jaar geword het nie! Dis asof ek in ‘n permanente wagkamer gesit het en nie geweet het hoe om die deur oop te maak nie. En dan het dit gewoonlik gebeur dat ‘n deur oopgaan en ek het régtig getrek, na die volgende, beter plek toe. Tot dit nie meer beter was nie en ek weer begin soek het na groener weivelde.

Ek het onlangs begin by ‘n nuwe werk. Dis my droomwerk (of gaan definitief wees!). Ek het onder begin soos ‘n mens maar moet, maar dis ‘n fantastiese geleentheid om te groei en te verbeter en iets van jouself te maak. Vir die eerste keer in my werkende lewe het ek aande en naweke af om te doen net wat ek wil!

Na 8 jaar as joernalis by verskeie plaaslike koerante het ek aan die einde van laasjaar besluit om die handdoek in te gooi. Op die rype ouderdom van 30 het ek huis toe getrek en probeer om myself uit my depressie te red. Ek het begin oefen en ‘n boek(ie) geskryf. Ek het tyd saam met my ouers spandeer en ek het weer begin werk soek. Maar steeds het ek gewag… Uit ‘n tas geleef en die bokse met al my stuff het stof opgegaar.

Verlede maand het ek die Karoo van my skoene afgestof en is terug in die Moederstad. ‘n Maand later het ek besef ek het nog steeds die helfte van my bokse nie uitgepak nie. Ek het besef ek is nog steeds aan die wag vir IETS.

Ek het op ‘n stadium vir vier jaar in dieselfde huis gebly en nooit eers die moeite gedoen om spykers in die mure te kap om net my prente op te hang nie. Ek het steeds gewag. Vir iets. ‘n Teken, ‘n deur om oop te gaan of ‘n verandering wat my gelukkiger sal maak. Dieselfde het gebeur by my volgende woonstel.

Dus het ek besef dis nou tyd om te settle. En daarmee bedoel ek nie dat ek opgegee het op my drome vir ‘n beter lewe en beter werk en beter salaris nie. Dis iets waarna mens MOET streef. Jy moet iets hê om na toe te werk. ‘n Doel.

Een van my gunsteling teksverse is Jakobus 4:13-16:

“Kom nou, julle wat sê: Vandag of môre sal ons na dié en dié stad gaan en daar een jaar deurbring en handel drywe en wins maak – julle wat nie eens weet wat môre sal gebeur nie. Want hoedanig is julle lewe? Dit is tog maar ‘n damp wat vir ‘n kort tydjie verskyn en daarna verdwyn. In plaas dat julle sê: As die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen. Maar nou roem julle in jul grootpratery. Al sulke roem is verkeerd.”

Maar ek het dit egter nog altyd verkeerd geïnterpreteer. Die les is dat God in beheer van jou lewe is. Dat Hy sal besluit waarheen jy volgende sal gaan. Hy sal deure oopmaak en jou lei. Ek het egter net gesien dat jy nooit gaan weet hoe lank jy op ‘n plek gaan wees nie, en alhoewel dit waar is, het ek dit geleef. Ek het bly wag vir die oomblik wanneer die Here ‘n volgende deur oopmaak, sonder om die jaar wat ek wel op ‘n sekere plek gehad het, te gebruik het!

So daag ek toe myself hierdie week uit. Ek gaan my bokse uitpak en my kamer rondskuif. Ek gaan vir myself ‘n tuiste skep hier waar ek nou is.

Ek wil aan ‘n oefenprogram commit en dit actually doen. Ek wil nuwe, beter en gesonder gewoontes aanleer. Ek wil wortels skiet. Ek wil spaar en ‘n huis koop. En ‘n kat kry. En dalk ‘n hond. En dan dalk ‘n boyfriend ook.

Ek wil nie meer passief wag en kyk hoe die groen gras aan die ander kant langer word terwyl my eie gras eintlik perfek is nie.

Soos ek sê, stel doelwitte, streef na meer, maar begin jou lewe op die oomblik ook geniet.

Dis regtig nou tyd om te begin lééf!

Tannie Lisie se skoene aan die onderkant van die kerktrap

Sleutelwoorde

,

Daar is baie stories in ons klein dorpie. Sommige van hulle net ‘n vae herinnering. Vandag het ek aan dié een gedink. Die details nie meer so helder al die jare later nie.

Dié een is van Tannie Elise Pienaar, of net Tannie Lisie, soos ons haar genoem het.

Sy het vir jare en jare op die hoekhuis oorkant die kerk gebly. Sy het met skape in die landerye tussen die huise van die Kapaaisland geboer. Jy kon haar elke dag in haar stok-ou wit bakkie sien ry waar sy elke land se skapies gaan optjek.

Sy het ‘n nuwe bakkie gehad. “Nuut” in die sin van hy het net ‘n paar 100 myl op die klok gehad. Dié blou bakkie het in die garage gestaan vir spesiale geleenthede, soos om Dorp toe te gaan. Ek het wel een keer in die blou bakkie ‘n rit gehad.

Tannie Lisie was ook die orreliste by die kerk.

Sy het ‘n ongelooflike versameling skoene gehad. Elke Sondag het sy ‘n ander kleur gedra. En dit het altyd by haar uitrusting vir die dag gepas. 

Dis belangrik om hier te noem dat die hele gemeente eers 5 na 10 minute voor die diens begin daar opdaag. Enigiemand wat van buite die dorp kom, soos die nuwe dominee wat kom preek, het soms met ‘n swaar gemoed toegekyk en benoud begin wonder of enigiemand gaan kom, aangesien daar kwart voor géén voertuie in sig is nie. Net Tannie Lisie op haar plek voor die ou kerkorrel.

Maar kort voor die kerktoring se horlosie slaan (dis nou ás my pa daarby uitgekom het om hom op te wen) sien jy bakkies met ‘n stofstreep in die pad afgery kom om voor die deure te parker, vinnig te groet en hul gewone sitplekke te gaan inneem.

Jy het altyd geweet Tan’ Lisie is op haar plek, want haar helder skoene sal aan die onderkant van die trap bly staan. ‘n Helder herinnering van pienk en rooi en hemelblou wat waggehou by die voet van die rooi mat wat na bo lei.  

Die trappe was te styl vir die skoene met hul hoë hake en sy het ‘n gemaklike paar gehad wat bo gebly het waarmee sy mooi die orrel kon trap.  Vader alleen weet hoe sy elke week die stofpad oorgesteek het met dié deftige hofskoene.

Ná afloop van die diens was daar altyd eers tee gedrink in Tannie Lisie se huis oorkant die straat. Al haar “Bekkies” bymekaar. Dit was haar troetelnaam vir ons: “Môre my Bekkie!”.

As kinders van die klein gemeente was dit altyd ons werk om in die donker kombuis die teekanne vol te maak.

Almal het dan in haar sitkamer vol oudhede en klaviere hul koppie geniet, die mans om die ronde tafel, en die vroue in die sitkamerstoele met hul voete op die Persiese mat van regte sy, voor ons weer die koppies moes was.

Daar was net één rede hoekom ons aangehou het om dit te doen. Elkeen wat gehelp het met die tee en opwas, is altyd na die tyd sjokolade gevoer. En daar was áltyd sjokolade in haar spens. Die spens was ‘n geslote deur, af van die eetkamer (waar honderde klein fynighede in die kaste verskuil was en as jy te hard geloop het op die houtvloer het alles geklingel), waar daar ondenkbare lekkerhede verskuil was.

Die skoene aan die onderpunt van die kerk se trappe staan egter lankal nie meer daar nie.

Lank voor Tannie Lisie nie meer op haar eie kon woon in haar kasarm van ‘n huis nie, het die trappe, selfs sonder skoene, net te styl geword.

Vroeër vanjaar het sy finaal haar skoene gelos, al die helder pare, aan die onderkant van die Hemelse trap, voor haar laaste klim tot bo waar sy heel moontlik steeds die al die ou bekende lofliedere speel vir die Engelekore.

Slaapvrate en drake

Sleutelwoorde

, ,

As kind het ek ‘n gunstelingstorieboek gehad. 

Die boek, Slaapvraat en Leander, het gegaan oor ‘n seuntjie wat nie kon slaap in die aande nie. Die Slaapvraat het dan by hom kom kuier, saam met hom die donker verken en taai jam-toebroodjies gemaak. Hulle het saam na die streep miere gekyk wat in die spens toesak.

Slaapvraat (“kleiner as ‘n beer maar groter as ‘n kat”) sou dan onder sy kop kom lê, soos ‘n sagte kussing, tot Leander aan die slaap kon raak. Mens dink dis eintlik sy verbeelding, maar een oggend kry sy ma twee lang hare op sy kopkussing, nes dié van die slaapvraat.

(Die boek is in 1987 deur Johan de Waal uitgebring. Ek het wel ‘n kopie probeer opspoor, en selfs met Johan gepraat, maar dit is nie meer in druk nie.)

Die gedeelte wat my altyd bybly is waar Slaapvraat ‘n monster (of was dit ‘n draak?) uit Leander se drome oprol en in die gang af laat verdwyn.

Noudat ek oud en groot is, is ons nie meer veronderstel om drake en monsters te hê nie. Sodra jy in jou eie huis intrek, jou eie huur betaal en jou eie kar afbetaal, moet mens seker makliker slaap in die aande. Of so voel dit.

Ek het, soos almal seker maar, nog steeds my drake wat in die nag kom pla.

Gisteraand het ek gedroom van my Ma. Sy was my Slaapvraat. Toe ek in die middel van die nag wakker word, geworried soos altyd oor dinge wat eintlik buite jou beheer is, was sy daar.

Sy het die monsters in my kop opgerol en in die gang af laat verdwyn. Toe het sy by my kom lê, en soos die slaapvraat, sag onder my kop rus kom bring.

Ek sweer ek kon haar vanoggend in my kussing ruik.

Kosmaak voor my ma se Aga

Sleutelwoorde

, , ,

EK het nog altyd ’n sagte plekkie vir resepteboeke gehad.

Dié liefde het in my kinderdae ontstaan, waar ek saam met my ma in haar warm plaaskombuis, voor die Aga-stoof, deur resepteboeke sit en blaai het op soek na ’n nuwe poeding of bredie om uit te toets.

Saam het ons gebak en brou, koekies gebak en die buurvrou se nuwe disse probeer. Van jongs af het ons geleer hoe om regte plaasgeregte en maklike eetgoed voor te berei.

Dit het ook dikwels gebeur dat moeder vinnig moes inspring wanneer iets nie heeltemal volgens plan verloop nie!

Dis dalk juis die Aga, die reuk van beskuit wat uitdroog in die oond en die warmte teen die Karoo-koue wat my liefde vir nuwe resepte aangewakker het.

Sondae was dit tyd vir gekookte kos. Bruingebraaide lamsboud in die oond met roosmaryn, wat die huis soos ’n grênd restaurant laat ruik. Blinkbruin gebraaide aartappels en soet malvapoeding vir nagereg.Toe ek destyds universiteit toe is, was Sondae altyd die ergste. My ouers was te ver, terwyl die res van die kampus verdwyn het vir die naweek.

Dus het ek weer begin om op Sondae te kook, ’n tradisie wat ek steeds probeer volhou – al is dit steeds met ’n piepklein stofie. Met my Karoo-kookboek onder die blad probeer ek nuwe disse, oondgebakte hoender (in ’n miniatuur oondjie en ’n tweeplaat-stoof) en ingewikkelde crême brulee (natuurlik nie die beste idee as jy nie strooisuiker het nie!) en hope knoffel wat die huis deurtrek. Dit was natuurlik baie meer pret om te kook in ’n huis waar jy weet iemand ánders gaan, ná jy koekmeel die hele vloer vol gemors het, tjoef-tjaf die vloer weer laat blink.

Ek en my ma e-pos nog steeds nuwe resepte heen-en-weer, maar die internet is nou eenmaal nie soveel pret soos die Kook-en-Geniet nie!Maar deesdae, wanneer ek genoeg gekook het vir ’n hele weermag en dan die helfte moet vries, mis ek steeds Sondae by die huis, my ma se rye resepteboeke en veral die warm Aga waar jy jou winterhande kon warm maak ná ’n dag in die koue.

Ek mis haar raad met alles van hoofdisse tot nagereg, sop en koekies, en ’n yskas wat altyd die nodige bestanddele het!

My week as beeldhouer

Sleutelwoorde

, , , ,

So het ek die naweek wel nog ‘n stokperdjie aangekweek, of ten minste probeer. Hier is ‘n bietjie oor my week as beeldhouer.

IN die gees van die nuwejaar het ek oor die naweek nóg ’n projek aangepak.

Die idee is om elke week iets nuut te begin, en ná ek die eerste week probeer tuinmaak het (absolute chaos), het ek my hande aan klei geslaan en gekyk wat kom daaruit.

Een ding is verseker; ek het splinternuwe respek vir beelhouers. Beeldhouwerk is hard werk!

Dit hang seker af van die tipe klei wat jy gebruik, maar die sandklei (R7 per kilo) is nou een maal nie baie maklik om te gebruik nie.

Natuurlik moet jy eers opkom met iets om te maak en die beste waarmee my skamele kunssinnigheid kon opkom was ’n mannetjie met ’n slap hoed. (Moet eerder nie vra nie!)

So begin die bene, lyf, arms en kop vorm kry. Die enigste probleem is met dié tipe klei is dat jy seker moet maak al die dele is ordentlik aanmekaar vas. Jy moet elke deeltjie krap met ’n nat stokkie sodat dit aanmekaar plak en sodoende nie uitmekaar val as dit gebak word nie.

Die arms wou nie lekker vorm vat nie en die arme man het heel ongemaklik gelyk waar hy skeef-skeef staan.

Met lam bo-arms en hande het ek die laaste afwerking gedoen, tog te bly dat dit uiteindelik klaar is. My geduld was lánkal op.

Die eindproduk het gelyk soos ’n voëlverskrikker, met ’n flopperige hoed op sy kop.

Jack

Jack, die Voëlverskikker

Die arms was egter nog steeds ’n probleem, tot my goeie vriendin met die idee opkom om hom ’n vurk in die hand te sit.

Jack (soos hy toe gedoop is) het ’n vurk gekry, en met die hulp van vriendin (’n brons patineur), is Jack se vurk vinnig verander van vlekvrye staal na ’n roeskleurige brons. (Dankie, Janapatina!) Ek het wel my vingers verbrand aan die ongelooflike warm vurk aangesien ek nie besef het hy was al onder die vlamme nie!

En net so het Jack sy ontstaan gehad. Hy moet nou maar wag staan en die goggas en plantetende hasies uit my armsalige tuin hou.

Dalk is dit net wat my tuin nodig gehad het.

Update: Jack het gesneuwel. My vriendin se Sofie het haar bak op Jack laat val. Koploos en armloos. Arme Jack. RIP.

Tuinmaak is nie vir sissies nie!

Sleutelwoorde

, , , ,

So kom ek nou die dag sak-en-pak terug Stellenbosch toe ná ’n té kort vakansie ind ie Oos-Kaap, motor gelaai tot heel bo teen die dak.

Tussen al die klere en eetgoed wat ma saamgestuur het om die jaar mee te begin, is daar ook ’n kartondoos vol plante, al die pad van George af waar my tante haar eie garden service run.

Dié plante moes die toer terug huis toe, en eers weer ’n week later Stellenbosch toe saam my aandurf, maar aangesien dit ’n verskeidenhied vetplante is, het hulle nogal goed gehou.

Sien, dis nou een van my nuwejaarsresolusies, om meer stokperdjies te begin. Die eerste is natuurlik om my hand in die sand te slaan en te begin plant.
Dit was egter glad nie so maklik soos ek gedink het nie.

Nie eers die feit dat dit vetplante is, kon keer dat die arme nuwe plantjies in die Stellenbosse hitte verlep nie. Of dalk wou hulle juis minder water gehad het en dis dié dat daar hulle so lamlendig begin hang het na die eerste dag in die grond.

Sien, my tuin is nou nie die maklikste om aan die gang te hou nie. Die spruiers wat ons tuinman elke dan en wan groot ooopdraai, raak nie al die hoekies nie en dus is die een kant van die huis ’n tropiese, groen woud, en aan die anderkant ’n woestynagtige landskap waar die gras nie eers wil groei nie.

Tuinmaak is nou maar eenmaal nie vir sissies nie. As my plante teen die einde van volgende week staan, plant ek tamaties (wat volgens die interweb soos onkruid groei in enige klimaat), maar as hulle vrek gaan ek ’n paar klippe aanskaf en die dor dele maar so goed moontlik probeer verberg.

Ek vermoed ek het nie juis groen vingers nie…