Sleutelwoorde
dankbaarheid, dorpie, herinneringe, klein dorpie, liefde, Mense wat ek geken het, moedersdag, ouma, Stories
Vir my mammie, wat dié Moedersdag sonder haar eie mammie moes spandeer.
My Oupa Hannes en Ouma Bettie het gewoon in die Transvaal, baie baie ver verwyder van die Karoo waar ons grootgeword het. Ek onthou hoe my ma-hulle ons douvoordag stuk-stuk agter in die kombi gelaai het as ons sou gaan kuier.
Dan het ons kassette van Boney M en Abba geluister.
Ek onthou stop vir toebroodjies langs die pad en dan uiteindelik die hek en die netjiese tuin as ons by Ouma-hulle se huis in Welverdiend stop.
Welverdiend, vir die wat nie weet nie, is ‘n klein spoorwegdorpie na aan Carletonville net duskant Potchefstroom. Daar was baie min om te sien en doen, maar ons het altyd iets gekry om onsself mee besig te hou. Sondae het ons na die kerk, net drie huise af in die straat, gestap vir die oggenddiens.
Dis ook hiér waar ons hulle 50ste trou-herdenking gevier het. Die hele uitgebreide familie bymekaar.
Ouma Bettie het dié week besluit dis nou hoog tyd dat sy weer by Oupa Hannes aansluit. En al wat nou oorbly is ons herinneringe soos pêrels aan ‘n koord.
Ek onthou die reuk van die vrugtebome en die komposhoop in die hoek. Ek onthou hoe ons só vuil was van die rooigrond dat dit my ma ure gevat het om ons al vier se klere uit te was.
Ek onthou rummikub om die etenstafel en Sunrise-toffies as ons soet was.
Ek onthou die massiewe ou draadloos wat altyd op RSG ingestel was.
Ek onthou hoe die pienk leerbanke aan jou vasgeklou het op ‘n warm dag.
Ek onthou hoe Oupa Hannes gesit het en ‘n hele sak okkerneute uitgedop het, stadig en op sy eie tyd, buite op die ou bankie op die stoep.
Ek onthou hoe ek altyd honger aangesit het by die tafel en dan het my ouma altyd ‘n servet nader geskuif het, nog vóór ek kon mors.
Ek onthou anysbeskuit en gemmerkoekies – so hard dat jy in tee moes doop anders het jy ‘n tand gebreek!
Ek onthou blokkiesraaisels invul om die kombuistafel.
En ek onthou in my universiteitsdae hoe Ouma altyd as ek kom kuier het ‘n geldjie in my hand gedruk het en gesê het: “Vir groente! Sodat jy gesond kan eet as jy nie by ons kuier nie!”
En ek onthou die dag toe my neef Divan oorlede is. My ouma het gesit en my hand vasgehou. Op ‘n stadium het die trane begin oorloop. “My blaas is té vol!” het sy gesê toe sy haar trane met ‘n snesie wegvee. “Dis seker maar deel van oudword. Dit loop sommer oor!”
Rus in vrede, Ouma Bettie. Die reuk van anys en gemmer, rooigrond en Rummikub sal ons altyd na jou laat verlang!