Ek het nou die dag daaraan gedink dat my lewe in die koshuis nogal gesorg het vir baie stories. Hier is die begin van ‘n paar. 🙂
Ek het meeste van my lewe in ‘n koshuis spandeer. Ek was van Sub A af, toe ek grootskool toe was, in die Hok gewees.
Dit was vreeslik lekker. Dis soortvan om elke aand ’n pajama-party te hê en al jou maatjies was daar.
Daar was agt van ons in Sub A in die koshuis, drie seuns en vyf meisies. Ek is onlangs genooi na een van die girls se troue toe. Meeste van die ander is al getroud. Net die een meisie het heeltemal onder die radar ingegaan. Die ouens bly oraloor die land. Nou die dag in een vasgeloop. Verder hou ons maar kontak op Facebook.
Ek onthou nog presies my eerste dag van skool. Of eerder die koshuis-deel. My ma het nog pouse vir my toebroodjies gebring en vir my gesê sy het iets vir my gelos in my kamer.
Nou die “kamer” waarin ek myself bevind het was nogal groot. Eintlik was dit meer ‘n saal. Al die Sub A’s, Sub B’s en St 1’s het daar geslaap. So om en by twintig van ons. Die saal was bo die studiekamer (probleem) en die vloere was van hout (groter probleem!). Ons het elke aand raasgekry oor ons soos olifante rondgehardloop het!
Die koshuiskatels was sulke ou staalbedjies. Dit was baie maklik om hulle rond te skuif op daai gladde houtvloer.
Die Sub A’s kom altyd ‘n bietjie vroeër uit die skool uit. Dan het ons buite in die modder gespeel tot die ander kinders oor die rugbyveld gestroom het na die Hok toe. Dan het die etensklok gelui en ons het almal in ‘n ry gaan staan om te eet.
Maar dis nie wat ek onthou van daardie eerste dag nie. Ek onthou dat ons almal uit die skool gekom het, nuwe skoolklere nog vars en skooltas nog vol nuwe kryte. Ek kon nie wag om te sien wat my ma vir my gelos het nie, so ons al vyf het saam gehardloop oor die rugbyveld, in by die stegie, op met die trappe en af in die gang. Eeerste regs en dan links in by die saal.
My bed was reg oorkant die deur en ek het met ‘n verskriklike geraas oor die houtvloer genael. Reguit op my bed gespring dat hy eintlik skuins skuif, tot teen die persoon langsaan se bed.
“’n Apie!”
Dit was die begin van my ma se tradisie. Sy het met elke groot skuif wat ek gemaak het, hoërskool, universiteit, vir my ‘n teddie gegee. Dis nogal cool, want ons is vier kinders en dis net mý en haar ding.
Ek het hulle almal nog, maar my pienk apie met sy ope arms waaarop staan “I love you” het ‘n ereplek in my kamer. Hy’s perfek. Sy oop arms hou jou vas as jy alleen voel. En as ek hom so vasdruk onthou ek my ma en daardie eerste dag van skool.