Sleutelwoorde
armes, dorpie, Karoo, klein dorpie, Mense wat ek geken het, plaasjapie, Stories, stories oor mense
As kinders van ’n klein Karoo-dorpie is ons baie bevoorreg is baie opsigte, maar dis steeds belangrik om te onthou dat daar baie swaarkry is in sulke afgeleë areas. Die ongelooflike landskappe van die Karoo is ’n beeldskone plek om groot te word, maar vir baie mense in dié gemeenskap gaan dinge maar broekskeur.
Die dorpie en plase is ver verwyder van enigiets af en winkels, dokters, tandartse en selfs net Binnelandse Sake se kantoor is ’n hele daguitstappie “dorp” toe. Dan moet daar nog ’n taxi geboek word vir die dag ook.
Op ons plaas het ons werkers wat al so lank as wat ek kan onthou daar woon. Een van hulle se naam is Boy. Sy regte naam is Hendrik, maar niemand ken hom só nie. Boy het nogal ’n interessante storie, meestal omdat hy en sy broer dieselfde naam het. Destyds kon sy ma nie onthou wie is wanneer gebore nie, so hulle het toe sommer altwee dieselfde naam én geboortedatum gekry.
Natuurlik het Binnelandse Sake dít glad nie verstaan nie en so is die twee se identiteitsnommers ’n bietjie van ’n deurmekaarspul en hulle soms sommer as dieselfde persoon gesien.
So het dit gebeur dat Boy, ná sy vrou se afsterwe, besluit het om weer te trou. Om een of ander rede het Binnelandse Sake egter die kat aan die gat beetgekry en volgens hulle was Boy klaar getroud met sy broer se vrou, Elsie. Alhoewel Boy en sy nuwe vrou wel “kerk getroud” was, kon die huwelik nooit geregistreer word by Binnelandse Sake nie.
Dit het egter nie vir Boy veel gepla nie, want sy nuwe vrou was ’n moeilike antie en sy het kort daarna besluit sy verkies die dorpslewe bó die van die plaas en sy is vort. Intussen is daar met veel moeite aansoek gedoen vir nuwe ’n identiteitsdokument en aangesien die huwelik nooit geregistreer kon word nie, is Boy nou weer ’n vry man!
’n Ander kwessie wat natuurlik opduik as jy só afgesonder is, is gesondheidskwessies. Die kliniek is 9 km ver en die naaste tandarts ’n hele 60 km van die plaas af. Sodoende is meeste van ons werknemers teen hul middeljare reeds tandloos.
Boy het darem nog ’n oogtand of twee gehad, maar een van ons ander werkers, Willem of Perdekar soos hy by die ander bekend was, was heel tandloos. Dis natuurlik een ding om sop te wil eet, maar dis ’n helemale ander storie as jy ’n appel wil kou.
Dus, elke keer as Perdekar ’n appel wou eet, het hy dit eers vir Boy met sy een oogtand aangegee en mooi gevra: “Start hom net gou daar vir my?”