Sleutelwoorde

, ,

So een Vrydag in ‘n maand gee ons kantoor vir die arm mense kos.

Dis nogal iets om te sien. Die ry van so om en by 90 mense staan skaam-skaam nader. Kleurlinge, wit en swart, almal staan tou by die kiosk waar ons die groente-mengsel saam met gister se brood op ‘n bord vir hulle uitsit.

Vroue kry eerste, dan die mans, en dan kan jy nader staan vir seconds. Soortvan soos in die jare wat ek op kosskool was. (Ek was wel vir al 12 my skooljare in die ‘Hok’!) Die hongerte dwing die mense om hul eer te vergeet en met gebakte hande nader te staan vir ‘n klein ietsie om aan te kou.

On smaak beurte om die pot gelaai met groente huis toe te vat en dit dan op te kook tot in ‘n stew. Almal voel half sleg om dit net so voor te sit, so hulle gooi darem bietjie lekkerte by. Wie sal nou vir mense iets gee wat hulle self nie eet nie?

Ons daag dan op. Swartsakke vol verslane brood en twee potte vol gekookte groente.

Daar word eers geopen met gebed en dan skep ons hompe groente in polisterienbakkies wat die mense in die kantoor gaaf genoeg was om bymekaar te maak. (Ek vergeet altyd!)

Maar so doen ek my deel elke maand. Ek spandeer ‘n halfuur saam met die armste van die arm. Wat nie eers geld het vir ‘n broodjie nie. En jy word dankbaar.

Jy kan nie anders as om jou hart oop te gooi vir dié mensies nie. Hulle sê so mooi dankie vi r die klein beitjei wat hulle kry, veral as daar nog oor is vir ‘n tweede skeppie.

Dit bring ‘n mens weer terug grond toe. Een keer ‘n maand staan ek terug en waardeer ek wat ek het. Selfs al werk ek twee jobs om dit te kry. Ek het ‘n dak oor my kop, kos in my maag, en vriende en familie wat darem so nou en dan sal kan uithelp as dit sukkel.

Ek is geseënd.