Sleutelwoorde

,

As journo by ‘n klein koerant is ek gelukkig om baie van baie dinge te leer. Dit maak my nie ‘n ekspert op enige van die gebiede nie, maar ek kan darem ‘n gesprek voer oor so te sê enige onderwerp.

Ek het geleer om notas te maak oor alles wat belangrik is, dit op te neem en dit dan oor te vertel. Die lekker ding daarvan is dat jy altyd weet wanneer om die regte vrae te vra om die storie te laat vloei.

Dis egter min dat jy iemand ontmoet wat aanhoudend stories kan vertel. So sonder ophou. Jy bring ‘n nuwe topic op en dan vertel hy langsamerhand sy eie ervaring van daardie ding. (Ek het nogal die irriterende gewoonte om dit te probeer. My sussie raak altyd vies vir my. Sy sê ek maak of ek alles weet…)

Maar dis nou nie van my wat ek praat nie. So ‘n ruk terug het ons ‘n draai gaan gooi by Oom Jan daar by die see, my goeie vriend se oupa. Hy hou van stories vertel. Hy het baie jare as boer agter die blad en spandeer toe sy tyd daar by sy huis wat uitkyk op die see. Daar sit ons toe en luister terwyl die wit strand en oneindige water aanhou breek.

As iemand wat nogal hou van baie praat, was ek skoon stilgemaak. Behalwe dat ek nie die oom so goed geken het nie, en dus op my plek moes bly, is maar net een van die dinge wat my teruggehou het daardie dag. Ek het net sit en luister. En sodra die gesels eers opraak, ‘n onderwerp opgebring en dan verder sit en luister.

Klomp koppies koffie en ‘n skatkis vol avonture later het ons gegroet en weer die pad gevat binneland toe.

Ek is bly ek was daardie dag daar. Daar was nie regtig weer tyd om stories te hoor nie. Oom Jan het ons verlaat vir die hiernamaals laas week, net ‘n maand ná ons eerste kuier, en al sy stories saam met hom gevat.

As ek nou daaraan terugdink kan ek nie een storie onthou wat hy vertel het nie en as ek geweet het dan sou ek notas gemaak het. Ek weet hy was mal oor ou trekkers en het natuurlik daaroor gepraat. Verder kan ek nie regtig onthou nie.

Ek wens nou ek kon beter luister.